Njala (Tragelaphus angasii) - Die naam is afkomstig van die Swahili-benaming vir die diere.

Volwasse njalas het 'n gemiddelde massa van 130 kg en 'n hoogte van ongeveer 105 cm. Die bul het lang, gedraaide horings. Die njala word ook beskou as die diersoort waar die skeiding tussen bulle/ramme en koeie/ooie plaasvind. Die manlike njala is 'n bul en die vroulike njala 'n ooi. Manlike wildsbokke groter as njalas word bulle genoem en kleiner wildsbokke se mannetjies ramme. Vroulike wildsbokke groter as njalas word koeie genoem en kleiner wildsbokke se wyfies ooie.

Die ooi is ses maande dragtig, waarna 'n enkele lam gebore word. Njalas het 'n moontlike lewensduur van agt jaar.